by Die Burger
Al is jazz volstoom die modus van sy nuwe album, is Jason Reolon, dosent in jazzklavier by die Universiteit van Kaapstad en lid van die bekroonde groepe Breakfast Included en Restless Natives, nie ’n musikant wat hom laat inperk deur genres of kontekste nie.
Die 34-jarige Reolon se musiekvennootskappe (van Vicky Sampson tot Goldfish) is so uiteenlopend as die geleenthede waarby hy al opgetree het: van ernstige jazz vertonings tot Wêreldbeker-sokkerwed stryde, perdewedrenne, modeparades en komediefeeste.
Hy speel klawerinstrumente (vleuel klavier, Fender Rhodes- elektriese klavier en Wurlitzer- en Hammond-orrel) in allerlei style, van tradisionele jazz tot funk, lounge en elektroniese dansmusiek, selfs rock. Maar te oordeel na Outline, die trio-album van klavier, bas en trom wat Reolon vandeesweek in Kaapstad bekend stel, is jazz sy eerste liefde.
Met Wesley Rustin op kontrabas en Heinrich Goosen op tromme het Reolon as jazzpianis eersterangse medeverkenners van die musikale roetes wat sy komposisies karteer. Outline is die trio se tweede album ná hul 2007-debuut, Off the Record.
Die nege snitte op Outline, almal Reolon-komposisies, is verlede jaar by die SAE-instituut in Kaapstad opgeneem. Die klankvermenging en eindproduksie is gedoen by Sear Sound en Sterling Sound in New York.
Die album word môreaand bekend gestel in die ouditorium van die Freeworld Design Centre in die Cape Waters-gebou, Waterkantstraat 71 (kaartjies is te koop by Computicket en by die deur). Reolon se trio gaan optree saam met ’n paar gaskunstenaars: Buddy Wells (saxofoon), Tony Paco (perkussie) en Ariella Reolon (tjello). Bewegende digitale kuns deur Marcii Goose, wat Outline?se treffende omslagkuns ontwerp het, sal die musiek visueel komplementeer.
Die snitte op Outline is dikwels melodieus, met fragmente van meer toeganklike wysies tussen komplekser jazz-improvisasies. Die klavierspel is liries eerder as aggressief. Die bas en tromme is opgewek, maar die klavier bly rustig. Die effek is strelend. Dit laat dat die luisteraar ontspan, maar terselfdertyd bly dit musikaal interessant. Reolon en sy medemusikante wys dat toeganklike jazz nie vervelig hoef te wees nie.
Die titelsnit is ook die openingsnit en dit is ’n wenner waarop die trio ’n klank skep wat groter as ’n driemanskap klink. Dis onvoorspelbaar en rol slu voort, terselfdetyd lui en passievol.
Reolon se klank is dikwels nie identifi seerbaar as spesifiek Suid-Afrikaans nie, maar het ’n meer globale karakter – met eggo’s van Kaapstad en Afrika en Kuba en New York en Europa.
Dit is altyd merkwaardig wanneer goeie musikante ’n inheemse jazzklank kanaliseer via die dissipline en minimalisme van slegs klavier, bas en trom. Reolon en sy genote doen dieselfde met die Latyns-Amerikaanse benadering van jazz op die album se laaste snit, “Heinsight” – en vier só hul musikale ongebondenheid en veelsydigheid.